Featured

Veertig jaar? Onmoontlik

Ek besef vanoggend met ‘n skok: Ek en my beter helfte is hierdie jaar 40 jaar getroud. Dit voel onwerklik en onmoontlik. Kon die tyd so vinnig verbygegaan het?

Ek spot nog altyd dat aangesien ons ‘n vroegoggend bevestiging gehad het, gevolg deur ‘n heerlike ontbyt onthaal in skoonouers se mooi tuin, ek nie verantwoordelik gehou kan word vir my antwoorde op enige van die vrae wat die dominee in my rigting gemik het nie.

Ons was albei nog studente in ons finale jaar en het besluit om die knoop deur te haak, voordat ek die volgende jaar moes aanmeld vir my twee jaar diensplig (ver van die huis af by Infanterieskool in Oudtshoorn).

1984 was ‘n onstuimige jaar in Suid-Afrika. Bomme wat oral ontplof, spoorlyne en substasies wat opgeblaas word, die drie-kamer parlement wat nog in werking was, die seremoniële staatpresident rol en eerste minister rol wat afgeskaf is en vervang is met ‘n uitvoerende staatspresident, met PW Botha in die stoel. Bekendes soos AB de Villiers, Minki van der Westhuizen, Ruan Pienaar, Morne Steyn en Faf du Plessis is in dié jaar gebore, terwyl Zola Budd en Mary Decker hulle veelbesproke botsing gehad het by die Olimpiese spele in Los Angeles. Nicky Lauda het die SA Formule 1 op Kyalami gewen. Desmond Tutu wen ‘n Nobelprys vir vrede. Gerrie Coetzee verloor sy wȇreld titelgeveg op Sun City teen Greg Page toe hy in die 8e rondte uitgeslaan word.

In die res van die wȇreld word Ronald Reagan president van die VSA, Steve Jobs stel ‘n nuwigheid met die naam Apple Macintosh bekend, die AIDS virus word vir die eerste keer geïndentifiseer en Matina Navratilova en Chris Evert sit hul jare lange tweestryd op die tennisbaan voort.

Ons het na Night Court, Miami Vice, The Cosby Show, Hillstreet Blues en Cheers op TV gekyk, terwyl Indiana Jones and the Temple of Doom, Ghostbusters, the Terminator, Nightmare on Elm Street, Amadeus, Once Upon a Time in America, the Karate Kid, Never Ending Story, Killing Fields, Footloose en Against All Odds in teaters gedraai het.

Ons het na liedjies en albums geluister soos Born in the USA van Bruce Springsteen, Careless Whisper van Wham, Drive van die Carrs, Band Aid se Do they know it’s Christmas, Footloose se album met Kenny Loggins, I Want to Break Free van Queen, Jump van Van Halen, Against All Odds van Phil Collins, Hello van Lionel Ritchie, Oh Sherry van Steve Perry, Thriller van Michael Jackson, Island in the Stream van Dolly Parton en Kenny Rogers en vele meer.

Nou is dit 40 jaar later (en ek verkies steeds die musiek van die 70, en 80’s!) Die wȇreld het baie meer kompleks geword en jy kan bykans niks glo wat jy sien en hoor nie. Tegnologie het ons lewens oorgeneem. Die politiek het soos dag en nag verander, die arme Rand is niks werd nie en mense sukkel om kop bo water te hou. Beide my ouers is oorlede, alhoewel ek baie dankbaar is dat my pa so lank deel van ons lewens kon wees. Meer as twee hande vol van die groter Brits familie is nie meer met ons nie, mense wat ‘n onlosmaaklike deel van ons grootwordjare was.

Maar deur dit alles het ons met die Here se genade oorleef. Ek moes al ‘n paar keer eintlik nie meer hier gewees het nie. Ons is geseën met wonderlike kinders. Die oorheersende gevoel wat ek het na vier dekades se getroude lewe, is dankbaarheid.

Nou is die volgende mylpaal 50 jaar. Ons weet nie wat die volgende 10 jaar gaan inhou nie, maar ek glo ons moet vertrou op dit wat in Jeremia 29:13 staan:

Ek weet wat Ek vir julle beplan sȇ die Here. Voorspoed en nie teenspoed nie. Ek wil vir julle ‘n toekoms gee, ‘n verwagting!

Binnelandse sake

Ek het geweet die dag moet een of ander tyd aanbreek, maar soos dit ‘n goeie uitsteller betaam, het ek dit geïgnoreer, probeer wegpraat en gereken dat todat die regering ‘n afsnydatum aankondig, ek maar met my ou groen ID boekie sal klaarkom. Die boekie is terloops al twee keer per ongeluk deur al die siklusse van die wasmasjien en het wonderbaarlik oorleef.

Toe verloor vroulief haar ID boekie en heel teen haar aard, stel sy toe ook die onafwendbare uit, todat sy vir haar bestuurslisensie hernuwing by die verkeersdepartement, ingelig word dat sy nie die nuwe lisensie sal kan afhaal as sy nie ‘n geldige ID het nie. Hulle aanvaar skynbaar nie enige identifikasie soos op die bestuurslisensie en hulle eie E-NaTIS stelsel nie. Praat van nie jou eie inligting vertrou nie!

Ons besef daar is eintlik geen ander keuse as om aansoek te doen vir die nuwe ID kaarte nie. Maar waar gaan jy heen? Ek het al rillerstories gehoor van mense wat ‘n dag se verlof ingesit het om heeldag in ‘n tou by Binnelandse Sake te staan, net om die middag laat met onverrigte sake maar weer huiswaarts te keer. Almal gee advies: Gaan na een van die klein plekkies toe soos Atlantis of ‘n plattelandse plek soos Malmesbury. Nee wat, sê ‘n ander, Bellville is baie beter vandat hulle na die nuwe gebou geskuif het.

Ek gooi teiken op ‘n kaart van die Wes-Kaap en Paarl is die naaste dorp wat raakgegooi word. Nee, nie regtig nie. Iemand sê hulle het redelik vinnig daar geholpe geraak. Soos geluk dit wil hȇ verskyn daar op my sosiale media ‘n potgooi van ‘n onderhoud wat een van die plaaslike radiostasies met ‘n grootkop by die departement gevoer het en ek hoor by hom dat jy nie in ‘n tou hoef te staan nie, maar per afspraak gehelp kan word. Hy erken ook dat hulle aanlyn aansoeke ook nie so effektief is as wat dit moet wees nie en raai mense af om die roete te loop. Die afspraak metode klink soos musiek in my ore en ek kry op die derde probeerslag die regte webtuiste op Google. Ek sit ‘n paar persoonlike details in en kies 9 uur as my voorkeur tyd. Ek kies vroulief se tyd net daarna om 10 uur. Ek kry selfs ‘n sms wat my bespreking bevestig en ek is matig beïndruk.

Dinsdagoggend kwart voor agt vat ons die pad om seker te wees ons is betyds. Ons is vroeg in die Paarl, maar parkeerplek lyk alreeds skaars. Met eerste sig van die gebou, sien ek een tou kronkel al om die hoek, terwyl ‘n tweede soortgelyke tou in die teenoorgestelde rigting begin vorm aanneem. Wat die twee toue van mekaar onderskei, is nie vir my duidelik nie. Ek gaan verneem versigtig by die dame wat lyk of sy dinge by die deur beheer, of een van die toue vir mense met afsprake is.

“Het jy ‘n tyd?”, vra sy. “Nege uur”, sȇ ek. “Nou kom dan nege uur terug”, sê sy.

Ek praat nie terug nie en ons gaan soek maar ‘n koffieplek om die halfuur om te kry. Tien voor nege staan ons in ‘n geordende bondel voor die deur, saam met almal wat ook afsprake gemaak het en wat ook wonder waar hulle moet staan. Nege uur kom die sammajoor dame uitgestap en begin name van ‘n lys aflees. My naam is tweede en ek voel soos ‘n celeb toe ons genooi word om in te gaan en ons by almal in die twee toue verbystap. Ons kry ons eie aparte area om te wag, net vir dié met afsprake. Ek kan verstaan hoekom politici verslaaf kan raak aan dié tipe voorkeur behandeling. So far so good.

‘n Man en sy seun is voor ons op die lysie en ek verloor so effens moed toe die pa sê dis hulle vyfde poging om vir die seun sy eerste ID te kry. Terwyl hy besig is om dit te vertel doen hy byna ‘n agteroor salto toe die stoel waarop hy wou gaan sit, se rugleuning meegee. Behalwe vir die klein ongelukkie, verloop dinge dié keer beter vir hulle en na so vyftien minute is dit my beurt. Die man agter die rekenaar is vriendelik en al wat hy van my wil hê is my ID nommer, adres, telefoon nommer, waar ek gebore is, waar ek getroud is en my e-pos adres. Ek besluit op die ingewing van die oomblik om my paspoort wat twee jaar terug verval het ook te hernu, vir ingeval ek dalk weer ‘n e-pos kry wat sê ek het $750 000 in ‘n Lotto gewen waarvoor ek nie ingeskryf het nie. My nuwe beste vriend maak ‘n aantekening en sê dis nie ‘n probleem nie.

Hy beduie dat ek in die hokkie langsaan moet gaan sit vir ‘n foto of twee. In die muur oorkant my is ‘n ronde gat met ‘n standaard Nikon kamera wat deur die gat loer. Ek sien die lens neem onbedaarlik foto’s en net toe ek dink dis klaar roep hy en sê die kamera wou my nie afneem nie en ons moet weer probeer. Nogal sleg vir die ego as ‘n kamera weier om jou af te neem. Hy stel voor ek skuif die stoel effe agtertoe en ons begin van voor af. Dié keer het ons sukses. Al wat oorbly is om op ‘n elektroniese paneel, soos in die banke, my handtekening te maak, drie keer. Net toe ek die OK knoppie druk, groet sy hele rekenaarstelsel.

“Ons is van lyn af”, sê hy met die ongestoorde stemtoon van iemand wat dit elke dag twintig keer ervaar. “Hopelik is al my goed gestoor”, vra ek hoopvol. Hy glimlag met die gesigsuitdrukking van iemand wat van beter weet. Tien minute later, nadat hy oor en oor sy duimafdruk moes gebruik om lewe in die stelsel te blaas, is ons terug in besigheid, maar soos wat hy met sy ervaring voorspel het, moet ons weer van voor af begin. Die keer werk alles en my proses is na net twintig minute afgehandel. Optimisme oorweldig my en ek verneem of vroulief nie sommer ook gou geholpe kan raak terwyl sy in elk geval langs my sit nie, maar soos dit ‘n bekwame staatsamptenaar betaam, word die versoek ferm geweier. Sy moet tien uur terugkom. Ek kry ‘n vorm met ‘n nommer wat ek by die kassiere aan die anderkant van die gebou moet inhandig om ‘n betaling te maak.

By die kassiere hokkie sien ek vir die eerste keer ek is op die vorm duidelik gemerk as “elderly”, maar ek kla nie want dit beteken die ID is gratis. Ek hoef net vir die paspoort te betaal, maar daar is geen mens in sig nie. Na tien minute slenter ‘n dame agter die glaspaneel in ek staan nader. “Nee”, sȇ sy, “dis nie hoe dit werk nie”. My nommer sal geroep word. My verduideliking dat daar niemand anders staan en wag nie, maak geen indruk nie en ek het geen ander keuse as om maar vir die spookstem te wag om nommer 80 te roep nie. Nommer 86 spring my voor en toe nommer 47. Ek sien geen logiese patroon nie en gaan sit maar weer met ‘n stille aanvaarding en berusting van iemand wat weet jy gaan nie die sisteem klop nie. Ek hoop en vertrou maar net die proses sal nie van my vergeet nie. Drie nommers later is dit my beurt.

Na die betaling gaan staan ons maar weer buite om reg te wees vir die tienuur kohort. Tien oor tien word vroulief nader geroep en ek mik om saam in te stap. Die sammajoor wil niks daarvan weet nie. Sy moet maar alleen die stryd gaan stry. Ek probeer haar bel na so tien minute om haar moed in te praat, maar soos gewoonlik is haar foon afgeskakel en in haar handsak (‘n storie vir ‘n ander dag). Met haar mooi gesiggie werk die kamera onmiddelik en die stelsel maak dit deur nog ‘n aansoek sonder enige probleme. Teen twintig voor 11 is albei ons aansoeke afgehandel, foto’s geneem, paspoorte betaal en is ons terug in die kar.

Ek vermoed mense in ander provinsies gaan waarskynlik heel ander ervarings as ons s’n beleef. Dis nie perfek nie; die gebou kort aandag, die toilette is oud, maar redelik skoon, die rekenaarstelsel gee gereeld die gees en die burokrasie staan sterk. Maar op die keper beskou, was ek verras oor hoe glad die proses eintlik verloop het.

Nou moet ons kyk hoe lank dit gaan neem om ons kaarte en paspoorte te kry en of ons alles gaan kry waarvoor ons aansoek gedoen het. Maar na alles, is ek versigtig optimisties.

Die gebou kort aandag, maar die reënboog aan die linkerkant het my moed gegee

Ons hou bruilof in die woud

So sewe of agt maande gelede het aanstaande skoonseun die groot vraag gevra, die gewensde antwoord gekry en al sy moed bymekaar geskraap om te kom ouers vra. Iets wat in my oë nie te moeilik behoort te wees nie, maar volgens vroulief kan ek blykbaar soms intimiderend voorkom. Nadat ons vir twee ure oor koeitjies en kalfies gesels het, die weer bespreek het, die nuutste speler skuiwe tussen die rugbyspanne van elke provinsie in die land ontleed het, aardverwarming opgelos het en die stand van die ekonomie bepaal het, het hy by die doel van sy besoek uitgekom. Na ‘n opregte vaderlike vermaning van wat sou voorlê as my oogappel enige ervaring sou beleef anders as euforiese geluk, het ons gemeenskaplike grond bereik en kon hy met verligting sy koffie, wat teen dié tyd reeds yskoud was, afsluk.

Vroulief het die volgende oggend effe paniekerig opgemerk dat ons net sewe maande het om reëlings te tref. Ek wat soms die geneigdheid het om dinge uit te stel tot later, het by myself gedink dat dit mos jare se tyd is. Hoe verkeerd was ek nie. Ons is in ‘n ander era getroud. Solank die kerk en predikant in plek was en die kos gereël was, was jy al 80% gereed. Nie in vandag se tye nie. Ek is ingelei in ‘n hele nuwe wêreld: Die troue industrie.

Chené droom al van kleins af van ‘n woudtroue. Nie sommer enige woud nie, maar ‘n plek met al die infrastruktuur om die seremonie, onthaal, verblyf en geskikte foto neem agtergronde te akkommodeer. Die soektog het begin. Na vele opsies oorweeg is, het sy haar voorkeur keuse gemaak. Ons het sak en pak op ‘n Saterdagoggend die twee ure rit aangepak en is vriendelik deur die eienaar ontvang en rondgewys. Almal het saamgestem dat dit die ideale plek was en nou kon al die ander reëlings daarvolgens beplan word.

‘n Koördineerder is betrek, waarvan ek in my onkunde die noodsaaklikheid bevraagteken het, maar in nabetragting besef een van die beste besluite ooit was. Daar is besluit oor die gevolg, hoeveel mense genooi kon word (en wie nie genooi kon word nie), die rok, kos, dekor, blomme, verblyf vir almal, waar die bruid sou aantrek, hare, naels, grimering, foto’s, die predikant, die troukar, klere vir die bruidegom en ma’s en pa’s, DJ en seremoniemeester. En dis net die dinge wat ek kan onthou.

Oor die volgende paar weke was daar gereelde oproepe, Whatsapp boodskappe en e-posse van die vroulike lede van die gesin, oor dringende betalings wat onmiddelik gedoen moes word vir deposito’s vir die woud, verblyf, die koek, die rok …..

Ek en Emile was net besig om teen die Swartbergpas op te ry en die onvergeetlike uitsig te bewonder tydens ons vyfdag roadtrip in die Suid-Kaap, toe een van dié boodskappe deurkom. Ek moet inderhaas ‘n betaling maak. Ek probeer nog verduidelik dat daar toevallig ‘n fraksie van ‘n millisekonde in die kuberruim oopgegaan het om die boodskap deur te laat op ‘n plek wat nie bekend staan vir betroubare seine nie, maar vroulief hoor nie ‘n woord nie, sluit haar heeltemal af van my dilemma en dring aan dat ek ‘n plan moet maak.

Ek probeer die skaars verskyning van ‘n sein so gou as moontlik benut en my bank app maak met ‘n hengse gesukkel oop. Ek sit my kode in en die rekeninge verskyn. Ek is net besig om die nuwe begunstigde in te voer toe die sein weer verdwyn. Ek stap heen en weer met die foon in die lug en lyk soos Rafiki in Lion King wat vir baba Simba aan die diere voorstel op die groot klip, maar die sein is weg. Tot in Prins Albert bly ek bekommerd dat my bank app oop is en deur een of ander skurk in Nigerië misbruik kan word. Oppad na Meiringpoort kon ek vroulief uiteindelik gerusstel en bevestig dat die deposito betaling gemaak is. Asof iemand wat oor sewe maande ‘n trourok moet aflewer, die bestelling gaan kanselleer omdat sy nie dadelik haar deposito ontvang het nie!

En toe skielik was dit minder as ‘n week voor die groot dag. Op Maandag kry ek ‘n betraande oproep van die aanstaande bruid. Sy het drie weer apps geraadpleeg en almal voorspel tussen 70 en 80 persent reën vir die troudag (onder die bome in die woud). Vol bravade het ek haar gerusgestel dat die voorspellings grootliks op raaiwerk gebasseer is. Daar is vier ouens in die weerkantoor en as drie saamstem dat dit gaan reën is daar ‘n 75% kans. Ek het maar net stilweg alle hoop daarop geplaas dat die langtermyn voorspellings, soos gewoonlik, baie sou verander soos wat die week sou vorder.

Ma se selfoon kies toe hierdie week om te besluit dat hy nie meer wil herlaai nie. Die battery het genoeg gehad. Ek is inderhaas na die Pakistani in die winkelsentrum naby ons en die volgende dag kry ek die foon terug. Nou laai hy tot op 46% en dan ontlaai hy weer tot 0%. Ek wil nog ‘n rekening vir Eskom stuur want ek vermoed die foon het heel week krag teruggesit op hulle netwerk. Ma is paniekerig want al die mense wat by die reëlings betrokke is se nommers is op haar foon en niemand kan haar in die hande kry nie. My foon word ingespan om middelman te speel.

Teen Donderdag sê die weer dit reën beslis Saterdagoggend, maar dat dit net swaar bewolk in die middag en aand gaan wees. Die seremonie is beplan vir half drie. Na die eerste klomp negatiewe voorspellings, klink dit al heel optimisties. Net om minute later te verneem dat Eskom aangekondig het dat beurtkrag onmiddelik inskop en dat dit tot die volgende week gaan duur. Ek raadpleeg dadelik my foon en sien dit beteken dat presies in die tyd dat die bruid en haar gevolg se hare en grimering gedoen moet word, die krag vir twee en ‘n half ure af gaan wees. Die tweede kraglose sessie vir die dag is sesuur die middag en dan is die onthaal net mooi aan die gang. ‘n Paar benoude oproepe na die gastehuis en die woud gee ‘n mate van verligting. Die woud is ingerig en het ‘n kragopwekker wat sal inskop as die krag afgaan. Die dame by die gastehuis gaan in hoogste versnelling en sê sy sal sorg dat haar man en skoonseun onmiddelik ‘n kragopwekker installeer. Die gemoedere in die Brits huis kalmeer darem weer tot ‘n gemiddelde paniek.

Een van die spesiale aspekte van die troue, was die keuse van die predikant, die troukar en die fotograaf. Almal vriende oor baie jare. Ek en Marius die predikant, kom al saam van graad 1 af (56 jaar). Ek en Dapper, die eienaar van die troukar, was saam in die weermag (37 jaar gelede). Coreen, die fotograaf en Arnout haar man, is al vriende van ons sedert ons in die 90’s Kaap toe getrek het.

Donderdag ry Marius die 152km van Griekwastad na Kimberley om ‘n vliegtuig te vang Kaap toe. Die vorige week het hy ‘n band gebars op een van die skitterende, slaggat belaaide paaie van die Noord-Kaap. Met ‘n band op bestelling, ry hy met die onpraktiese Marie beskuitjie spaarbande van vandag se voertuie. Soos die noodlot dit wil hê bars dié wielietjie tussen niks en nêrens. Ek kry ‘n benoude oproep wat sê hy het sy vlug verpas en hy gaan eers die volgende dag kan vlieg. Daar is darem nog tyd, maar die dokumentasie vir die troue moet nog Vrydag voltooi word om gereed te wees vir die proses by Binnelandse sake. Die bruid en vroulief wou vroegoggend deurry na die woud, maar sal maar effens later die oggend eers vertrek. Toe die dame wat die troukoek bak, laat weet dat sy so effens vasbrand en sy eers Vrydag teen middagete hoop om klaar te wees, het die reëlingskomitee se stresvlakke weer ‘n ongesonde rooi kleur begin kry.

Vrydagoggend laat weet Marius dat hy by die lughawe aangekom het, maar dat as gevolg van die busbestuurder staking op die lughawe, hulle vassit op die vliegtuig. My foon lui en ek sien dit is Dapper van die troukar. Hy het die troukar (‘n mooi 1960’s Merc) gou getoets om te verseker dat dit die woud sou haal en in die proses het die verkoeler die gees gegee. Gelukkig het hy nog twee mooi ou Merc’s en ons maak die keuse vir nommer 2.

Toe begin dinge ten goede verander. Marius word vrygelaat en maak dit in tyd. Die koekbakster laat weet sy is vroeër klaar as wat sy gedink het. Die bruid en moeder kom veilig by hul bestemming aan.

Saterdagoggend is daar ‘n sproeireën by die woud, maar die wolke lyk minder dreigend. Die parkeerarea en plek waar die bruid moet uitklim is nog baie modderig, maar ons sal probeer om ‘n plan te maak. Die volgende oomblik trek alles oop en die son brand behoorlik, genoeg om die parkeerarea grootliks op te droog oor die volgende paar ure.

My app piep en Eskom kondig aan hulle verminder die buurtkrag na vlak een, wat beteken dat die 10 uur sessie verval. Dit gaan die aantrek en grimeer projek aansienlik vergemaklik. Kort daarna laat weet Eskom dat beurtkrag heeltemal gestaak word vir die naweek. Wonderwerke gebeur nog!

Die koördineerder is uitstekend en het die dag se reëlings tot op die minuut in ‘n tydlyn saamgevat. Almal weet presies wanneer hulle wat moet doen. My eerste taak is om ‘n draai by die bruid te maak wanneer sy gereed is om na die woud te vertrek. Almal wat my ken, sal weet dat ek ‘n baie spesiale band met my kinders het en dat ek vinnig emosioneel kan raak waar hulle ter sprake is. Toe sy om die hoek van die gastehuis se sitkamer kom en ek haar vir die eerste keer sien, het sy letterlik my asem weggeslaan. Beeldskoon is nie beskrywend genoeg nie. Die droë gras en bossies wat mens op ‘n plaas kry het seker my oë aangetas, want ek moes konstant die skielike hooikoors aanval onder bedwang bring.

By die woud het Emile opdrag gehad om die lewendige Zoom sessie te hanteer vir almal wat graag daar wou wees, maar nie kon nie. Albei oupas en oumas kon nie so ver reis nie en het uitgesien om deel van die verrigtinge te wees. Ongelukkig was die sein in die woud nie sterk genoeg nie en het die sessie kort na die begin daarvan afgeskakel. Emile het dadelik geïmproviseer en kon darem die gebeure op video vasvang.

Die troue het uiteindelik presies verloop soos wat Chené dit wou hê. Die dekor en blomme was perfek, die kos uitmuntend en dit het gelyk of al die gaste dit gate uit geniet. Minute nadat almal in die onderdak onthaalarea in beweeg het, het daar weer ‘n sagte reëntjie buite begin val. Een laaste takie het nog vir my voorgelê. Chené wou ‘n eerste dans met haar pa hê (dis nou die man met drie linkervoete). Die hooikoors het weer begin opvlam toe òns liedjie oor die luidsprekers begin speel, Billy Joel se Just the way you are. Dit het my teruggeneem na haar geboorte. Die musiek het heeldag in die hospitaal en teater gespeel en sekondes nadat sy gebore is, het die ginekoloog haar vir my aangegee presies toe dié liedjie oor die radio begin speel het.

“Don’t go changing to try and please me
You never let me down before, mmm
Don’t imagine you’re too familiar
And I don’t see you anymore

I would not leave you in times of trouble
We never could have come this far, mmm
I took the good times, I’ll take the bad times
I’ll take you just the way you are”

So lank as wat geneem het om die troue te beplan, te reël en te laat gebeur, so vinnig was dit oor. Nou begin die huweliksreis vir die stralende paartjie.

My enigste wens as pa, is dat hulle baie gelukkig sal wees.

Pa

Pik Botha – SA minister van buitelandse sake, Johnny Cash – Amerikaanse sanger, Jacques Chirac – Franse president, Petula Clark – Britse sangeres, Patsy Cline – Amerikaanse sangeres, Mimi Coertse – SA sopraan, Athol Fugard – bekroonde SA skrywer, Casey Kasem – Amerikaanse radio persoonlikheid, Sonny Liston – Boks swaargewig wêreld kampioen, Little Richard – Amerikaanse sanger, Louis Luyt – SA rugbybaas, Patrick Mynhardt – SA akteur, Peter O’Toole – Britse akteur, Carl Perkins – “Blue suede shoes” sanger, Omar Sharif – Egiptiese akteur, Elizabeth Taylor – Engelse aktrise, Mel Tillis – Amerikaanse sanger

Wanneer ‘n mens ‘n internet soektog loods, sit jy ‘n paar sleutelwoorde in en die soekenjin doen die res. Met my sleutelwoorde het Google onder andere vir my dié lys name uitgespoeg. Party dalk meer bekend (en sommiges dalk meer/minder gewild) as ander. Maar almal bekend genoeg om verdere bladsye te regverdig oor hulle prestasies, titels en redes vir hulle bekendheid. Sommiges het volledige biografieë, webbladsye wat net aan hulle toegewy is en bladsye vol Wikipedia beskrywings.

En tog is daar by almal iets wat kortkom. Behalwe vir hier en daar se terloopse opmerkings, sien ek nie regtig enige inligting oor hulle karakter, integriteit en waardes nie. Net die poste wat hulle beklee het, toekennings en prestasies wat hulle behaal het, asook die heldeverering wat hulle van hulle aanhangers geniet het.

Ek sien ook dat die lys nie volledig is nie. Daar kort ‘n naam. Frederik Johannes Brits. My pa.

My soektog het name opgelewer van bekende mense wat hierdie jaar 90 jaar oud sal wees. Maar sy naam is nie daar nie. Sy prestasies is nie wêreld bekend nie, maar was werklik noemenswaardig. Hy het in ‘n tydperk grootgeword, waar veral Afrikaanse gesinne groot swaarkry en armoede geken het. Maar altyd trots, netjies en met ‘n oplossing gerigte benadering. Nooit gaan lê nie, met ‘n onwrikbare geloof in God en die geborgenheid van die familie.

Opofferings was daar baie. Vroeg skool verlaat om te gaan werk om te help om die gesin te onderhou. Laat nagte op treine en stasies om na-ure studies te voltooi. Geen almoese of bakhand staan by die staat nie, maar net harde werk, deursettingvermoë en ‘n wil om suksesvol te wees.

Hy het homself opgewerk tot in ‘n senior bestuurspos. Vir dekades ‘n sleutelrol vir die organisasie vervul, todat ‘n nuwe bestuur besluit het om die appelkar om te gooi. Sy integriteit was vir hom belangriker as om ‘n “yes man” te wees en hy het bedank. Maar hy het nie op ‘n hoop gaan sit en homself bejammer nie, maar eerder sy eie besigheid begin. Hier het hy gekompeteer met van die groot spelers in die industrie, en is telkens bo groot maatskappye gekies om kontrakte van miljoene rande af te lewer. Elke keer is die keuse gemaak op grond van sy unieke kennis en ervaring, maar meer nog op grond van sy naam in die industrie. ‘n Man waarop jy kan staatmaak, wat doen wat hy gesê het hy gaan doen, met ware kliëntediens, perfeksie in kwaliteit en ‘n oplossing vir elke probleem.

Maar dit was nie net werk nie. Hy het altyd tyd gemaak vir ons as gesin, die res van die familie en vriende. Altyd daar by my sport aktiwiteite, elke middag na werk daar om saam met my bal te skop, altyd daar as enige iemand in die familie raad en advies nodig gehad het, altyd ‘n oop hand om te help as dit moeilik gaan en altyd vol moed en optimisties.

Oral waar hy kom, het hy ‘n impak op mense en die omgewing. By die woonstel in die Strand waar hulle gebly het, het hy hulle hyser probleem wat miljoene sou kos, opgelos vir ‘n appel en ‘n ei, die verfprojek om al die geboue binne en buite te verf suksesvol en goedkoper afgehandel en die tuine reggeruk. In alle opsigte merkwaardig, het hy in sy tagtigs Tafelberg en Leeukop saam met my uitgeklim.

Die afgelope paar jaar se ernstige gesondheid komplikasies het sy tol geëis, maar mense wat foto’s van hom sien en selfs die dokters wat hom behandel, stem almal saam dat sy positiewe ingesteldheid, veroorsaak dat mens byna kan vergeet dat hy ernstig siek is.

Vandag is ek bevoorreg om my pa se 90ste verjaarsdag saam met hom te kan vier. Sy naam is dalk nie op die lys van bekendes wat negentig word nie, maar moet beslis op die lys van besondere mense wees wat in 2022 negentig word.

Ek kan maar net saamstem met die Zac Brown Band en die lirieke van hulle liedjie “My old man

He was a giant
And I was just a kid
I was always trying
To do everything he did
I can still remember every lesson he taught me
Growing up learning how to be
Like my old man

He was a lion
We were our father’s pride
But I was defiant
When he made me walk the line
He knew how to lift me up
And when to let me fall
Looking back, he always had a plan
My old man

My old man
Feel the callous on his hands
And dusty overalls
My old man
Now I finally understand
I have a lot to learn
From my old man

Now I’m a giant
Got a son of my own
He’s always trying
To go everywhere I go
Do the best I can to raise him up the right way
Hoping that he someday wants to be
Like his old man

My rolmodel, mentor en held. My pa.

Advertensies

Ek sit en kyk na ‘n baie interessante video op my foon. Dan, vir die soveelste keer, verskyn daar uit die niet ‘n advertensie oor swembaddens. ‘n Paar geselekteerde gevleuelde woorde gaan deur my gedagtes, maar ek sê dit darem nie hardop nie, nog nie. Dink hulle regtig ek gaan, as ek ooit weer iets met ‘n swembad wil doen, van hulle gebruik maak. Net uit ‘n beginselhoek sal ek juis die teenoorgestelde doen.

Dis heerlik om na ‘n opgeneemde program op TV te kyk en met ‘n byna selfbehaaglike uitdrukking op my gesig, die vorentoe knoppie te druk om al die advertensies oor te slaan. As ek bietjie jonger was, het ek dalk tong uitgesteek.

Dit was nie altyd so nie. Dit laat my wonder: Wat het verander? Is dit ek wat ouer is en nie meer onderbrekings wil hê met dit waarmee ek besig nie? Is die advertensies net nie meer relevant vir my leefstyl en demografiese groepering nie? Of het die kwaliteit van advertensies, ten minste hier in Suid-Afrika, dramaties verswak?

Was die advertensies, toe TV op die toneel gekom het, regtig beter as vandag? Het ons nie dalk net genoeg advertensies gesien en nou ‘n versadigingspunt bereik nie?

Jare gelede het ek en vriend Andre, wat meer van bemarking geweet het as ek, selfs moeite gedoen en Sandton toe gery om na die beste advertensies in die wȇreld te gaan kyk. En as ek reg onthou, was daar ook plaaslike advertensies wat hul merk in dié uitgelese geselskap gemaak het.

Navorsing in die VSA het bevind dat humor vir die meeste verbruikers een van die belangrikste elemente is wat hulle van ‘n advertensie laat hou. Ek dink nie dit is veel anders hier nie. Van die suksesvolste advertensies op SA TV was dié met humor, nie net humor nie, maar tipiese Suid-Afrikaanse humor.

Advertensies wat onmiddelik by my opkom is onder andere die Sasol advertensies (“glug, glug” en die ouma se “ag seker nie ver nie”), die karakters van Castrol – Boet, Swaer en Mogae in die Kalahari (“a can of the best”), David Kramer met die Volksiebus, Toyota se honde advertensies (“wat ‘n chop”), Klipdrift (“nog enetjie” en “met eish ja”), Lunch bar (“now you’ve ruined the friendship” en “I’m a Makatini”), Cremora (Jan Spies se “pure plaas, ryk en lekker, koffie kapitaal” en “it’s not inside, it’s on top”), Wimpy (“I love it when you talk foreign”), CTM (“not too shabby Nige”), Douglas Green se toeris advertensie, MNet (diere wat praat en sing, soos die skape wat Barbara Ann sing), Pretoria se bemarking met standbeelde van Jan van Riebeeck, koningin Victoria en Paul Kruger (Carel Trichardt met “dit groei net Viccy, dit groei net”), Chomp se seekoeie (“Ou grootbek”), al Nando’s se advertensies en nog vele meer.

Een van die tekens dat ‘n advertensie die teikenmark bereik het, is wanneer die advertensie se sêgoed deel raak van die volksmond, soos wat gebeur het met die meeste van die voorbeelde hierbo genoem. Ek se nou nog op tye as ons by mense gekuier het en wegry: “Gawe mense, die Jansens”

Ander advertensies wat by my vasgehaak het, is onder andere die een van Volkswagen wat die lewenssiklus van jonkwees, verlief raak, trou, kinders kry, werk druk en stres en verhoudings wat swaarkry uitbeeld todat die sleutels van die Beetle vir die volgende generasie aangegee word (met die Andre de Villiers se Memories as temamusiek), die Sun City advertensie op die musiek van Queen se We will rock you (ek praat onder korreksie, maar dit is steeds die duurste en langste advertensie wat op SA TV verskyn het), dis opgevolg met Carousel se bekendstelling (met You ain’t seen nothing yet van Bachman Turner Overdrive) en IBM se olifante (op die musiek van die Hollies se “He ain’t heavy, he’s my brother”). Ek vermoed daar is ‘n hele generasie wat grootgeword het met die idee dat olifante uit eiers uitbroei.

Dan is daar nostalgiese advertensies, vir my persoonlik. Produkte soos Blue Stratos (wie kan die advertensie vergeet van die blou hang glider). Meeste van ons hoërskool seuns het Blue Stratos of Brut gekoop en so koel soos die manne in die advertensie probeer wees. Die Lion advertensies op radio en later op TV bring ook herinneringe terug (“biermanskap, leeuplesier – met Tito Lupini wat oor die doellyn bars en Paul Mattison van die groep The Mattison Brothers se diep stem wat sê “nothing less than the best”. Ook die Mainstay advertensie wat altyd gespeel het tydens die Top 20 op Springbokradio en later op TV (“you can stay as you are for the rest of your life, or you change to Mainstay”)

Dit bring my terug na my oorspronlike vraag – het ons advertensies verswak, stel ek net nie meer belang nie of is die fokus op ‘n ander teikenmark?

Ek sien hulle adverteer nou ‘n deodorant wat volgens die advertensie 72 uur kan hou, met ander woorde drie dae, en dan is die akteurs nog boonop besig om te oefen, te werk en te sweet. Miskien in ‘n land waar die temperatuur rondom vriespunt bly, nie in Nelspruit, Messina of Garies nie. Heeltemal belaglik en onrealisties. Of die gladde gesig seuntjies wat skeermesse adverteer. Daar is niks om te skeer nie. Gee daai lem vir Victor Matfield of Demis Roussos en ons praat weer. Dit onderskat ‘n mens se intelligensie. Dalk is dit een van die redes waarom ek belangstelling verloor het?

Gee maar liewers weer vir my die dae van braaivleis, rugby, sonskyn en Chevrolet!

Hoe gaan ek onthou word?

“Hy was so ‘n goeie pa”

“Al het hyself dit nie breed gehad nie, het hy altyd ‘n oop hand vir ander mense gehad”

“Musiek was sy passie”

“Die laaste paar jaar was vir hom baie moeilik, maar hy het dit nooit gewys nie”

Ek weet nie of dit is dat ekself nou aan die ouer kant raak en my tydgenote meestal op aftree ouderdom staan en of dit die onderstebo wêreld is, waarvan ons veral die laaste twee jaar probeer sin maak, wat veroorsaak dat ek meer begrafnisse bywoon as ooit tevore nie

As kind was begrafnisse vir my baie traumaties en sou ek verkieslik nie daar wou wees nie. Dit was erg somber, met almal in swart geklee, strak, stroewe gesigte en ‘n kis wat voor die preekstoel staan. Na die diens, die optog na die begraafplaas en almal wat om ‘n oop graf staan. Soms iemand wie se emosies oorkook en wat met alle geweld agter die kis wil aanspring.

Daar is al studies gedoen oor die effek van emosionele afsluiting wat die begrafnis ritueel tot gevolg het, alhoewel ek nie dink dat daar ‘n finale bevinding gemaak kon word nie. Deesdae sien mens by baie begrafnisse ‘n ander siening en benadering, met mense wat versoek dat dit eerder ‘n viering van die oorledene se lewe moet wees.

Familie en vriende wat bymekaar kom, informeel in alle opsigte, waar staaltjies gedeel word, goeie herinneringe opgediep word en huldeblyke gelewer word oor dit wat die persoon vir hulle beteken het.

Meeste van die begrafnisse word as gevolg van die huidige omstandighede beperk tot ‘n klein groepie wat fisies teenwoordig is, met die meerderheid wat die verrigtinge aanlyn volg. Maar dit is ook deels as gevolg van die hoeveelheid familie en vriende wat na ander lande verhuis het; nog ‘n ongelukkige realiteit wat mens in die gesig staar.

My waarneming by hierdie byeenkomste is dat, alhoewel die mense naaste aan die oorledene, steeds intens hartseer en bedroef is en dat niks die feit gaan verander dat die persoon finaal weg is nie, dit tog wil voorkom of dit ‘n meer draaglike afskeid is. Tradisionaliste sal waarskynlik van my verskil en uiteindelik bly dit steeds elkeen se eie keuse hoe hulle wil afskeid neem.

Wanneer ek na die huldeblyke van eggenote, kinders, familielede en vriende luister, kan ek nie help om aan my eie verganklikheid te dink nie. Wat sal mense in my kring van my sê en sal dit uit die hart kom of gesê word omdat dit verwag word? Hulle sê mos daar is geen slegte mens wat ooit begrawe word nie.

Ek dink terug aan die Seven Habits kursus wat ek jare gelede aangebied het en waar die vraag gevra is: Wat sal mense van jou sê by jou begrafnis? Jou vrou, jou kinders, jou familie, jou vriende, jou werks kollegas of vorige werks kollegas, mense aan wie jy rapporteer het en mense wat aan jou rapporteer het, die petroljoggie by wie jy vir jare petrol ingegooi het, jou huishulp en tuinman, jou kliente?

As mens hieraan dink, besef jy niemand gaan praat oor jou mooi huis, jou kar of ander besittings nie. Hulle gaan nie praat oor jou kwalifikasies, posgraad of titels nie. Oor hoeveel ure jy by die werk spandeer het nie. Hulle gaan getuienis lewer oor jou karakter, hoe jy hulle geraak het, wat jy vir hulle beteken het en watter herinneringe hulle van jou gaan hê. Met ander woorde, wat jou nalatenskap is wat jy agterlaat (die mooi Engelse woord – legacy).

Gaan jou kind sê: My pa het nooit een van my wedstryde of konserte gemis nie of gaan hy verskonend sê: Ongelukkig kon my pa nie altyd my wedstryde bywoon nie, want hy moes werk.

In vandag se gejaagde lewe is een van die moeilikste dinge vir mense, om hulle tyd te gee. Nie die vals weergawe wat “kwaliteit tyd” genoem word nie, maar werklike tyd, met volle aandag en belangstelling by die ander persoon. Een van die mooiste huldeblyke wat ek ooit gehoor het was iemand wat gesê het: “Hy het jou altyd laat voel dat jy op daai oomblik die enigste mens in die wêreld is”.

Helen Bush se gedig “I’d like to make a difference” som dit mooi op:

God has given me a place on earth

To be here for a while

I hope that as I’m passing through

I can make somebody smile

I want to make life easier

For all the ones I meet

I ask God for His blessings

To the strangers on the street

I hope I’ll never fail a friend

If I can help somehow

I want to be as generous

As my resources will allow

And when my life on earth is done

It will be my final plea

Let someone, somewhere think or say

You made a difference to me

Die boksie

Die parkeerterrein is verlate toe ons stilhou. Dis Sondagoggend en die meeste vakansiegangers en toeriste slaap waarskynlik nog hul Saterdagaand partytjieroes af. Ek en Emile is op dag twee van ‘n wegbreek wat ons vir jare beplan het, maar wat telke male vir ‘n legio redes uitgestel moes word. Die voorafgaande week het ons weereens benoud gehad met berigte en foto’s van die Suid-Kaap en meer spesifiek George, wat na erge reën onder water was. Ons eerste oornag sou hoeka Victoriabaai wees, wat net ‘n klipgooi van George af is. Swaar, donker wolke het die vorige dag dreigend oor die kampeerterrein gehang, maar was ons gelukkig genadig en kon ons die tent droog staanmaak en weer die volgende dag droog afslaan.

Die plan vir die dag was om Knysna toe te ry, weer die Prins Afredpas te beleef, iets te eet in Uniondale en dan laatmiddag by die Heads rond te dwaal. Dié plan het egter gou gesneuwel. Volgens alle aanduidings sou die pas na die verspoelings ‘n uitdaging wees met ‘n 4×4, wat nog te sȇ met ‘n Yaris. Nou was die plan om by die Heads te begin en dan vir die res van die dag, oppad terug na Wildernis, elke afdraai paadjie te vat en op ons tyd te verken.

Emile wou ‘n paar foto’s gaan neem en het koers gekry op een van die vele hout voetpaadjies in die omgewing. Alleen met my gedagtes, was ek byna onbewus van die motor wat stadig by die parkeerterrein ingery en in die verste hoek stilgehou het. Met die salige stilte, die see wat in die agtergrond druis, die kranse wat hemelhoog langs my die lug in toring en die skoonheid van die natuur wat jou asem wegslaan, was ek 100% in die oomblik vasgevang.

Ek raak eers weer bewus van die motor toe die deure seker ‘n kwartier later stadig oopswaai. Vier mense klim onseker uit; drie jong mense rondom dertig, twee vroue en een man en ‘n man in sy sewentigs. Hulle bekyk eers die area voor my en begin dan afgemete oor die grasperk loop in die rigting van die see, die jong man, met sy arm om die ouer man se skouers, vermoedelik sy pa geoordeel aan die gelaatstrekke, terwyl die een jong vrou aan sy ander kant, besorg iets vir hom vra en dan sy hand in hare neem. Die ander vrou dra versigtig ‘n reghoekige boksie voor haar met beide hande.

Al is hulle totaal onbewus van die vreemdeling wat elke beweging van hulle dophou en al voel ek soos ‘n indringer wat inbreuk maak op ‘n baie privaat, amper heilige oomblik, kan ek myself nie losskeur van dit wat voor my afspeel nie.

Dit lyk of hulle na ‘n baie spesifieke plek soek en dan skielik sien hulle dit: ‘n Hout bankie wat op die see uitkyk. Die ou man gaan sit met die drie jong mense wat in ‘n halfmaan agter hom bly staan. Hy vroetel in sy regter broeksak en haal ‘n wit sakdoek uit. Dan ruk sy skouers, met die drie kinders, wat besorg oor hom buk. My eie trane maak die intieme prentjie voor my wasig.

Dan tel hy die boksie, wat die vrou intussen langs hom neergesit het op, loop stadig tot by die water en skud die inhoud in die see.

Ons kuier ‘n boksgeveg mis

Ek sien vanoggend Leon Spinks het sy stryd met kanker op 67-jarige ouderdom verloor. Hy het ‘n uitstekende rekord as amateur opgebou en toe as professionele bokser, gesorg vir een van die grootste opskuddings in boks, deur die legendariese Muhammad Ali oor 15 rondtes te klop, in net sy agtste professionele geveg. Hy het sy nuwe titel sewe maande later in ‘n herontmoeting met Ali afgestaan, in ‘n geveg wat nie amptelik goedgekeur was nie, maar wat Ali sy derde swaargewig wêreldtitel besorg het.

Sy amateur rekord is besonder indrukwekkend. Dit sluit in ‘n brons medalje by die 1974 wêreldkampioenskappe, ‘n silwer medalje by die 1975 Pan Amerikaanse kampioenskappe en ‘n goue medalje by die 1976 Olimpiese spele. Sy broer Michael het by dieselfde spele ook goud gewen in die middelgewig afdeling.

Hy het sy amateur loopbaan afgesluit met 178 oorwinnings, waarvan 133 met uitklophoue.

Dis alles egter net van akademiese belang vir meeste Suid-Afrikaanse boks ondersteuners. Wat ons onthou is die geveg tussen Gerrie Coetzee en Spinks, die man met die kenmerkende gaping in sy voortande, in Monaco op 24 Junie 1979. Ek het in ‘n ander skrywe oor Gerrie se gevegte uitgebrei (link), maar hierdie geveg sou vir hom die eerste van drie geleenthede gee om swaargewig wêreldkampioen te word, eers op Loftus Versveld, waar hy teen Big John Tate verloor het, toe teen Mike Weaver in Sun City, waar hy uitgeslaan is en toe uiteindelik teen Michael Dokes, wat hy in Ohio uitgeslaan het om die titel te verower.

Ek twyfel, behalwe vir toegewyde ondersteuners van die sport, of Jan Publiek enige van vandag se plaaslike boksers sal ken. In die sewentigs en tagtigs het almal geweet van Gerrie, Kallie en Mike en Jimmy. Ook Pierre Fourie, wat toevallig bo sy gewigsgrens teen Gerrie geboks het vir die SA swaargewigtitel. Ander bekende boksers was die Silwer Sluiper, Charlie Weir en Tap Tap Makhatini. Later was daar Pierre Coetzer en Johhny du Plooy, Harold Volbrecht, Arnold Taylor en Brian Mitchell. Huishoudelike name wat selfs mense wat niks van die sport geweet het nie, laat kyk het wanneer hulle in aksie was.

Die geveg in Monaco het rondom 11 uur of 12 uur die nag plaasgevind, om die kykers in die VSA te akkommodeer. Ons klomp studente het al deur die loop van die middag by mater Mike se ouma se huis in die noorde van Pretoria, bymekaargekom, gereed vir die aksie, met die nodige braai toerusting, eet- en drinkgoed en musiek vir ‘n groot kuier wat voorgelê het.

Die kort weergawe is dat dit wel ‘n groot kuier was. Deur die middag en aand was daar voorspellings, bespiegelings en weddenskappe oor die moontlike uitslag van die geveg. Daar was die Kallie manne wat gevoel het Gerrie en sy gebreekte hande het nie wat dit gaan vat om die Amerikaner te uitoorlê nie en die Gerrie manne wat gereken het dat die wetenskaplike bokser altyd die straatvegter sal klop.

Laataand was die kuier goed op dreef en almal was lus vir die aksie. Die braaier, wat naamloos sal bly vir voor-die-hand-liggende redes, se tydsberekening was egter nie op standaard nie en almal was net besig om ‘n tjop en wors in hulle borde te laai, toe iemand uit die TV kamer gestap kom en aankondig dat die geveg verby is!

Wat ‘n anti-klimaks. Alles wat opgebou het van vroegmiddag af, net om te hoor dat ons die geveg misgeloop het. Ons kon darem as troosprys die herhalings oor en oor kyk.

Dis geskiedenis dat Spinks, soos ‘n bul wat ‘n rooivlag sien, uit sy hoek gekom het en onmiddelik vir Coetzee teen die toue probeer vaspen het. Gerrie het later in ‘n onderhoud erken hy het nie geweet wat om te verwag van Spinks met sy uitkloprekord nie. Toe die eerste houe val het hy besef dat Spinks se houe hom nie seermaak nie. Dit maak sin, want Spinks was in swaargewig terme eintlik baie lig, net 90 kg, teenoor meeste swaargewigte, soos Coetzee, wat oor 100 kg weeg. Gerrie het die eerste aanslae afgeweer en toe in ‘n teenaanval met ‘n regter losgetrek en sy teiken teen die slaap getref. Spinks het skouer eerste die krytvloer getref, maar was vinnig weer op die been. Nog ‘n regter en hy was weereens op die krytvloer. Die skeidsregter het nogmaals getel, sy handskoene afgevee en gewys hulle moet voortgaan. Coetzee se derde regter was ‘n perfekte hou. Spinks het met rubberbene tot teen die toue gestrompel en was alles, na net meer as twee minute, oor en verby.

Gerrie het nou sy kans gehad om wêreldkampioen te word. Intussen, ook in Junie 1979, was dit die ander Suid-Afrikaanse hoop, Kallie Knoetze, wat sy kans, op ‘n warm bedompige dag in Mmabatho, teen Big John Tate gekry het. Mens wonder steeds oor Kallie se vertoning dié dag. Daar was vele gerugte oor die vorige aand se gebeure, maar daar is steeds nie duidelikheid oor Kallie se opsigtelike swak toestand nie. Hy het in die 12e rondte met ‘n tegniese uitklophou verloor. Vier maande later was dit Coetzee teen Tate op Loftus vir die wêreldtitel, maar dit het na 15 rondtes geëindig in ‘n groot teleurstelling vir ondersteuners, en hulle moes tot 1983 wag om te sien hoe Gerrie wêreldkampioen word.

Daar was sedert dié gevegte nog nie weer dieselfde belangstelling in Suid-Afrika se boksers nie. Om die waarheid te sê, internasionale boks is ook nie meer dieselfde nie. Met die hoeveelheid alfabet sop liggame wat bestaan (die met die meeste status is die WBC, IBF, WBA, WBO, maar daar is nog ‘n magdom ander) weet niemand regtig meer wie wêreldkampioen is, of wie se titel enigeiets beteken nie.

Met die skryf van die stuk, het ek die geveg weer gekyk, op Youtube. Net soos daai aand, ook ‘n heruitsending!

Dis maar ‘n hondelewe

Daar is nóú sewe.

Ek sê spesifiek nóú, want dit kan in ‘n oogwink verander. Meer is altyd ‘n onverwagse moontlikheid. Minder is ongelukkig ook ‘n moontlikheid, hoe tragies en hartseer die gedagte ookal is.

Ek verwys natuurlik na ons spannetjie hondekinders. Met Izelle wat al vir jare Spaniel Welfare in die Kaap bestuur, is nuwe gesigte in die huishouding niks buitengewoon nie. Daar is altyd daai spesiale een wat nie aan enige iemand se sorg toevertrou kan word nie. Die tipiese afvlerk sindroom. Hulle is of erg verniel en mishandel in hulle vorige bestaan, is te oud om aangeneem te word of kruip so diep in haar hart in, dat sy hulle bloot nie kan laat gaan nie.

Die wat bly omdat hulle te oud is om ‘n huis te kry, het ongelukkig tot gevolg dat daar meer gereeld as in ander huise, moeilike besluite geneem moet word, wanneer hulle lewenskwaliteit net nie meer daar is nie.

Dit bring my terug na “daar is nou sewe.”

Bruno, die Golden Retriever, wat nog nooit enige goud teruggebring het huistoe nie, Cody, die Golden Retriever/Spaniel kruising, Marley, die American Cocker Spaniel , Trixie, die Pug/Spaniel kruising, wat eintlik net sou loseer, maar nou ‘n permanente inwoner is, Cassie, die skugter skaaphond, Kylie, die Cocker Spaniel, wat uit haglike omstandighede gered is en laastens die jongste toevoeging, Nala, ‘n jaaroue Cocker Spaniel wat, om dit sagkens te stel, ‘n handvol is. Sy probeer haar plek in die spannetjie vestig deur, anders as ander honde, aan almal se gesigte te ruik, met reaksies wat wissel van “Wat doen jy nou?” tot “Los my uit.” Sy wissel die ruikery dan af deur volspoed om die huis of om die swembad te hardloop, terwyl sy haar opgewondenheid op die top van haar stem uitbasuin.

Nala

Deur die dag is dit nie ‘n groot storie nie, maar probleme met die bure is ons voorland as dit net voor slaaptyd, so 11 uur of half twaalf gebeur of kwart voor vyf in die oggend, wanneer sy die hele huishouding op horings neem.

Natuurlik is daar verskillende sienings in die huis oor die aangeleentheid. Die een siening is dat dit ‘n jong hondjie is en dat sy ‘n oormaat energie het om van ontslae te raak, dat sy by haar vorige huis in ‘n beperkte ruimte moes beweeg en dat sy nie die vryheid en spasie kan glo wat sy nou het nie en laastens dat dit nie so erg is as wat gesê word nie.

Die tweede siening is dat kwart voor vyf nie vir normale mense die ideale tyd is om met ‘n oorverdowende geblaf wakker te word nie, dat daar by meer as een geleentheid gewaarsku is dat ‘n jong hondjie die hele dinamika van die huishouding gaan verander en dat daar beter dissipline toegepas behoort te word.

Soos Sophia in Golden Girls altyd gesê het: Picture this ….

Dis kwart voor vyf in die oggend. Nala hardloop ‘n roete deur die leefarea en kombuis, van die spens (waar hulle kos is) na die gangdeur (wat lei na die slaapkamers), na die African Grey se hok en laastens na die kokketiel se hok (waarteen sy in beide gevalle opspring), terwyl sy onophoudelik, uitgelate blaf. En hoekom nie; dis ‘n nuwe dag, met nuwe geleenthede, sou sy redeneer. Dit inspireer natuurlik die res van die spannetjie om haar entoesiasties aan te moedig.

Cody, wat in ons kamer slaap (dis ‘n storie vir ‘n ander dag) begin dan sy eie ritueel om seker te maak ons word wakker, asof hy dink enige mens kan slaap met dit wat aan die anderkant van die deur aangaan.

Afhangend van Izelle se werkskedule, word die oggend opstaan roetine tussen ons verdeel. Hoe die roetine verloop, verskil soos dag by nag.

Sonder om enige iemand te impliseer, kom ek verduidelik:

Die eerste persoon, kom ons noem hom of haar Persoon A, sal opstaan, eers tande borsel en ander klere aantrek en dan vir Cody iets sê soos: “Kom ons gaan gee vir julle kos,” wat hom noop om sy dankbaarheid luidkeels aan te kondig. Persoon A sal dan die alarm afsit by die deur wat lei na die chaos, wat onverpoosd voorgegaan het sedert kwart voor vyf. Dis nou tien minute later.

Persoon A word dan hartstogtelik verwelkom, selfs deur die stiller lede van die span. A sal dan opgewonde vir almal aanspoor om te “Gaan plas,” terwyl die glasdeur wat na die agtertuin uitgaan, oopgesluit word. Wat hierna volg lyk soos Black Friday by Game as daar grootskerm TV’s vir R5000 geadverteer is. Hoor en sien vergaan soos almal in verskillende rigtings spat om ‘n draai te gaan loop.

Terug in die huis, word daar honde beskuitjies uitgedeel en dan word die kos, anders as met middagete waar elkeen sy kos in ‘n bak kry, sommer in hopies op die vloer gegooi. Die twee grotes kry hulle kos op die stoep, maar aangesien hulle moet wag tot heel laaste en moet sien hoe die res reeds weglê aan ontbyt, gee hulle hul misnoë met die situasie duidelik te kenne, todat hulle ook in die feesmaal kan deel.

As hulle klaar geeët het word die gangdeur oopgemaak en storm almal, met die gepaardgaande byklanke, na die slaapkamer, waar elkeen ‘n plek soek om te lê todat daar ‘n uur later amptelik opgestaan word.

Persoon B, daarinteen, sal opstaan en reguit na die alarm loop, dit afsit en die chaos betree. Die enigste woorde wat vir die volgende twee ure geuiter sal word is: “Ek wil NIKS hoor nie.” Wanneer die orde herstel is, word die beskuitjies uitgedeel, gevolg deur die kos. Elkeen kry kos op hul eie plek, met Nala wat heel eerste bedien word, tussen die agterdeur en veiligheidshek, amper soos in eensame afsondering. Die res stap saam, in stilte, van plek na plek, todat almal hulle kos het.

Die span sal na ete, met die uitsondering van Nala, hulle draaie gaan loop, terwyl die gangdeur ongesiens oopgemaak sal word. Soos wat hulle klaarmaak en inkom stap hulle een-een in stilte tot in die kamer en kry ‘n lêplek vir die volgende uur. Nala word dan eers met ‘n leiband gras toe gevat, waar sy dan sonder enige probleme haar toiletsake afhandel. Dan hardloop sy kamer toe vir die laaste uur se slaap (mens kan darem ook nie heeltyd wonderwerke verwag nie).

Die probleem is nou: A sien die verskil, al word dit heftig ontken. B word nou subtiel onder druk gesit om maar elke oggend die kosgee ding te doen, “sodat die bure nie gepla word nie.” In skaak sou dit as ‘n baie slim skuif deur A beskou word.

Die spreekwoord sê: Moenie slapende honde wakker maak nie. Maar is daar ‘n spreekwoord vir wanneer hulle jou wakker maak terwyl jy wil slaap, of om hulle weer aan die slaap te kry as hulle reeds wakker is? Ek glo nie.

Ek ken wel ‘n ander spreekwoord: Dis maar ‘n hondelewe 🙄

Grootboet kyk en luister

“I’m listening”. “I’m here”. “Yes?”

Dis van die opmerkings wat Siri deesdae kwytraak. Op sigself is daar niks uitsonderlik daaraan nie; dis tog die bedoeling dat sy ‘n virtuele assistent vir iPhone gebruikers moet wees. Maar wat my laat wonder is die tendens dat sy meer gereeld sommer net begin praat terwyl ek met ‘n gesprek besig is, sonder dat ek die gebruiklike Hei Siri sê om haar aandag te trek.

Mense wat my ken, sal weet dat ek daarvan hou om my eie opinie te vorm oor enige inligting. Ek is hoogs skepties oor samesweringsteorieë en het myself al soms baie ongewild gemaak met my reaksie op fopnuus (wat insluit om sommer reguit te sê dat mense bietjie navorsing moet doen en nie fopnuus moet versprei nie)

Maar, ek kan nie help om te begin wonder oor ‘n paar insidente wat net te toevallig voorkom nie. Ek besef dat die meeste sosiale platforms of aan dieselfde organisasies behoort of dat inligting tussen organisasies gedeel word. As jy enigsins op sosiale media is, weet hulle reeds byna alles van jou af. Die groepe waaraan jy behoort, dit wat jy “like” of waarop jy kommentaar lewer, jou foto’s s en plekke wat jy besoek vertel ‘n storie van wie jy is en dis uiters waardevolle inligting vir organisasies soos Facebook, Twitter, Google, Pinterest, Whatsapp, Instagram en vele meer.

My pa sê verlede week vir my dat hy nou al lank lus is vir sushi, maar ‘n spesifieke tipe. Ek google tipes sushi en hy identifiseer op die foto’s die een wat hy wil hê. Ek bestel by ‘n restaurant om die hoek en voordat ek nog by die deur uit is, verskyn die eerste van ‘n paar advertensies vir sushi op my Faceboek muur.

Wanneer ek ‘n spesifieke dis aanmekaar wil slaan vir aandete en ek kry ‘n resep op Pinterest, word ek vir die volgende dae geteiken met soortgelyke resepte. Hou ek van ‘n meme met ‘n inspirerende boodskap, word ek toegegooi met slim opmerkings van Griekse filosowe, twyfelagtige motivering sprekers en soetsappige prentjies van alle soorte.

Ek wil mielies kook en is nie seker hoe lank ek dit in die kookwater moet los nie. Ek kyk gou op die internet. Sekondes later is dit mielies net waar jy kyk, op verskillende platforms.

Al die voorbeelde kan steeds redelik logies verklaar word en alhoewel dit my bekommer oor hoe maklik hulle toegang tot my inligting het en die totale gebrek aan privaatheid, om nie te praat van die wettigheid om my persoonlike inligting te myn en vir bemarking te gebruik nie, kan ek die konneksie raaksien tussen die gebeure.

Die één wat my egter sprakeloos gelaat het en wat my weer laat dink het oor my skeptisisme oor samesweringsteorieë, het so twee weke gelede gebeur. Ek en Emile het gaan kamp en ons was besig om musiek te luister, spesifiek rock musiek, wat ‘n gedeelde passie vir ons is. Ek het ongeveer 6000 liedjies op my foon en ons het dit gestel dat die speler lukraak liedjies moet kies.

Intussen het ons gepraat oor kunstenaars en rockgroepe van die sestigs, sewentigs en tagtigs, toe musiek nog die moeite werd was. Name soos Queen, Foreigner, Journey, Dire Straits, Elvis en Neil Diamond het opgekom. Dis waar dit eienaardig geraak het. Wanneer ons oor ‘n spesifieke kunstenaar of groep gepraat het, het ‘n liedjie van van die kunstenaar of groep volgende begin speel. Aanvanklik het ons gelag oor die toeval, maar toe gebeur dit keer op keer. Natuurlik kan mens een of twee keer aan toeval toeskryf, maar twaalf keer? Ten minste het Siri na goeie musiek geluister.

Daar is juis nou ‘n hofsaak in die VSA waar Facebook vir Apple aanvat omdat hulle nuwe sagteware weergawe, geteikende bemarking beperk. Dit klink vir my maar na ‘n keuse tussen twee euwels. Ons is as verbruikers grootliks uitgelewer aan die tegnologie reuse.

Dit laat my met die vraag. Moet ek alles toemaak en geen sosiale media voetspoor hê nie? Hoe hou ek dan kontak met ou vriende? Hoe soek ek inligting wat ek nodig het? Ons is reeds sover ingetrek in die proses dat mens kwalik daarvan sal kan afsien.

Dit gaan ook nie beter word nie. Met kunsmatige intelligensie (AI), gaan die insameling en ontleding van voorkeure, belangstellings en gewoontes steeds meer en meer gesofistikeerd raak. Saam met aanlyn soektogte en bestellings van plekke soos Ubereats, Takelot en Amazon, asook slim toestelle soos yskaste en TV’s, wat selfs kan bepaal wanneer jou melk op is en sommer self ‘n bestelling by die supermark kan plaas, gaan ons ‘n era binne wat baie maklik jou hele bestaan kan oorneem.

Dis veronderstel om ons lewens makliker te maak, maar soos wat mens kan sien met rekenaars en selfone, is jy nou 24 uur van die dag beskikbaar, neem sosiale- en kommunikasie vaardighede dramaties af en is menslike kontak en -interaksie besig om meer op die agtergrond te skuif.

Uiteindelik berus dit seker maar by elke persoon of jy gaan toelaat dat die tegnologie jou lewe gaan oorneem en of jy steeds beheer gaan behou.

Intussen is ek maar erg skepties elke keer as Siri sê: “I’m listening”.